Tuisblad

Preek - Mark 8

Preek - Matt 27

Preek - Rom 5

Preek - Joh 4

Preek - Hd 9

Kontakbesonderhede


Preek - Matt 27

En hulle het Hom geneem na Golgota...
Goeie Vrydag



SKRIFLESING:Mt 27:32-56 en Mt 28:1-10
LOFSANG:GES 142:1-2
NA WET:PS 25:5
NA GEL:GES 245:11
VOOR PREEK:GES 133:1, 3
SLOTSANG:GES 138:1, 3 EN 4

TEMA: Jesus Christus is gekruisig en oorwin die dood deur die opstanding, kom ons leef uit dankbaarheid vir hom!

INLEIDING

Goeie Vrydag is die dag van die kruisiging van onse Here Jesus Christus. Dit is die dag waarop Jesus uitgeroep het: Vader, in U hande gee Ek my gees oor! Dit was sy laaste asemteug. Hier spreek tog net een taal, broeders en susters, en dit is die taal van die dood! Dis die taal van God se toorn wat voltrek word. En as ons vir u meedeel dat hier ook opstandingsklanke van die kruis uitstraal, sou u dink dis onmoontlik! Want is die dood dan nie finaal nie? Is dit dan nie die einde nie?
Gemeente, by Golgota kry ons baie kontraste: ons vind lig en die volgende oomblik weer duisternis; ons kry lyding in die ergste graad waar Jesus uitgeroep het: My God, My God, waarom het U my verlaat?, en dan weer spot in die ligte graad waar uitgeroep is:Red Uself en ons!; ons kry 'n aarde wat die een oomblik normaal is, en die volgende oomblik is daar 'n reuse aardbewing, ons kry Jesus Christus waar Hy dood aan die kruis hang, en drie dae later staan Hy uit die graf uit op! Golgota is gebeurtenisryk, liewe gemeente.

1.DIE HOOP VAN GELOWIGES BLYK VERLORE TE WEES!

Maar nou: Jesus is gekruisig! Jood en Romein staan skouer aan skouer rondom die kruis. Daar is tevredenheid in hulle harte want Jesus is dood! Wat meer is, Hy het die vloekdood gestrerf! Hierdie Man wat verklaar het Hy is die Seun van God! Hierdie Man wat die wereld in beroering gebring het met sy wonders en genesings!Hierdie Man wat niemand geen kwaad aan gedoen het nie! Daar hang Hy! Uiteindelik is Hy dood!
En die kerk van Christus? Sy getroue volgelinge? Wat moes hulle gedink het?
Wat moes hulle gedink het, gemeente, want Jesus Christus, die Seun van God, die enigste hoop op verlossing, is gekruisig, Hy is dood! Die kruis van Christus stem ons tot angs en vrees, want God se kerk is nou alleen! 'n Wolk van uitwissing hang oor die kerk. Die dood staan hier sentraal! Die dood het oorwin, so het baie geredeneer, broeder en suster. Maar, die oomblik wanneer Jesus sterf, die oomblik wanneer dit lyk asof die dood finaal oorwin het, dan is daar sprake van lewe! 'n Aardbewing het die aarde geskud op sy fondamente. Duidelik word aan getoon dat Golgota nie maar net 'n ou plekkie iewers in die wêreld is waar drie kruise eenmaal gestaan het nie, maar dat Golgota 'n plek van gerig is waar God sy straf op die sonde voltrek, dat dit werklikheidsgebeure is wat die geskiedenis van die mensdom verander het! En na die aardbewing het die grafte oopgegaan en baie van die ontslape heiliges het opgestaan. Die kruis bring dus nie net dood nie, gemeente, maar lewe, lewe uit die dood! Dooies is opgewek en het aan baie mense verskyn volgens vers 53. En dit gemeente, is die begin van die verkrummeling van die dood, die eerste teken dat Jesus sal opstaan!

2.DIE OPSTANDING 'N HEERLIKE TROOS VIR GELOWIGES!

En wat 'n wonderlike dag was dit darem nie, broeder en suster, toe Jesus Christus uit die dood uit opgestaan het nie! Dit was die eerste Sondag van die Christelike kerk, 'n dag wat spreek van nuwe lewe en oorwinning oor die dood. Dit was 'n verslae kerk van Jesus Christus wat by die kruis moes staan, toe Hy gesterf het, dit was beangsde en bevreesde dissipels en volgelinge wat dit moes aanskou!
Maar nou, gemeente, weet ons dat Hy die dood oorwin het! Jesus het opgestaan! Hy hang nie meer aan die kruis nie! Hy lewe! Hy het getroimfeer oor die dood! Ons is nie meer die kerk onder die kruis nie, maar die kerk op die oorwinningspad! Jesus se opstanding is die sleutel tot die Christelike geloof. Waarom bely ons dit, geliefdes? Want deur sy opstanding het God bevestig dat Jesus die Seun van God is volgens Rom 1:4. Omdat Hy uit die dood opgestaan het, weet ons ook in die tweede plek, dat ons sonder twyfel uit die dood sal opstaan. Die dood is dus nie die einde nie, daar is lewe daarna! En in die derde plek, weet ons ook dat die mag en die krag waardeur Jesus weer lewend geword het, ook in ons werk, sodat ons wat geestelik dood is, weer kan lewe volgens Ef 1. En laastens vorm die opstanding die grondslag van die gelowiges se getuienis in hierdie wereld! Dit is 'n blye boodskap, en dit is waaroor Paasfees gaan! Dit is 'n fees vir die Christelike kerk. 'n Fees vol van blydskap en vreugde, want daar is nie net versoening vir ons gedoen nie, ons word ook gered, kry die ewige lewe verniet en hoef nie meer vir die dood te vrees nie. Dit verdryf alle twyfel, onsekerheid en angs. Dit motiveer die kerk!

3.LEEF VANUIT DIE OPSTANDING!

Broeders en susters, maar nou is die vraag: Lewe die kerk so? Hoe lewe ons as sy kinders? Want die opstanding omlyn opnuut weer my taak en my roeping as 'n lidmaat van sy kerk, om nie te twyfel nie, om nie onseker te wees nie, maar om te lewe vanuit die opstanding, vanuit die sekerheid van die oorwinning, naamlik dat nie die dood regeer nie maar die lewe tot in ewigheid. Wat 'n heerlike boodskap! Ek moet 'n draer van hierdie blye boodskap wees! Ek moet 'n getuie van Christus wees! Ek moet lewe vanuit die opstanding van Jesus Christus! Wat 'n voorreg!
Geliefdes, en as ons na ons gemeente gaan kyk, dan lewe baie van ons soos gearriveerdes! Asof die wedloop reeds voltooi is! Asof die stryd klaar gestry is!
Kerktoe gaan, as ek die dag lus het! Bybellees, as daar tyd is! Bid, as ek nie te moeg en te haastig is nie! My bydrae gereeld elke maand vir die kerk gee, as ek eers al my wêreldse genietinge klaar gehad het, as daar iets oor is, kom die kerk eers aan die beurt! Inskakel by die werksaamhede van die gemeente, by evangelisasie, by fondsinsamelings, by siekebesoek, by die gemeente Bybelstudie, as my eie werksprogram se aktiwiteite eers voltooi is! Om nie eers te praat van naasteliefde en vergewingsgesindheid nie! Broeders en susters, dis nie wat die Here van ons vra nie! Die Here vra dat ons die opstandingslig van Jesus Christus verder moet uitdra! Maar wat doen u persoonlik daaromtrent! Wat doen ek om die opstandingslig van Jesus uit te dra?

SLOT

Geliefdes, dit is Paasfees! En wat is Paasfees anders, dat die kerk van Christus sy bestaansreg moet verseel in hierdie wêreld, dat die poorte van die doderyk dit nie sal oorweldig nie? Maar, daar moet gestry word! Daar moet gewerk word! Elkeen van ons is daarby betrokke! Dis nie net 'n handjie vol mense wat aktief in die kerk moet wees nie, maar almal van ons! Want is dit nie ook wat Jakobus vir ons in sy brief vra nie? Hy sê ons moet 'n voorbeeld vir almal in die gemeente wees, want geloof is glo en doen! Elkeen van ons moet betrokke wees by die gemeente en by die Here onse God! In die Naam van Jesus Christus moet ons die Evangelie verkondig tydig en ontydig. Ons is nuutgemaakte mense, gewas in die bloed van Jesus Christus, en ons moet ook so leef!
So moet die hele gemeente van Christus, ook u liewe broeder en suster, geinspireer word tot geloofsgehoorsaamheid en geloofsaktiwiteit, tot aksie en doelgerigtheid, tot oorgawe, vanuit die opstanding van Christus! Want die losprys is betaal; die dood is oorwin; die sondemag is verbreek; die kerk is op die oorwinningspad! Die kerk van Christus waarvan ek 'n lewende lidmaat moet wees, en aktief betrokke by die werksaamhede!
Mag die Here ons elkeen aktiveer om vanuit die opstandingslig, met volle oorgawe vir Hom te kan arbei, tot uitbreiding van sy koninkryk!
AMEN