Tuisblad

Preek - Mark 8

Preek - Matt 27

Preek - Rom 5

Preek - Joh 4

Preek - Hd 9

Kontakbesonderhede


Preek - Handelinge 9

Jesus Christus roep ons tot bekering en om in sy diens te staan, laat ons gehoorsaam wees! Ds. Adriaan Swart

INLEIDING

Broeders en susters
Om in diens van die Here te kan staan is 'n baie groot voorreg! Om te luister na die Here, om in gehoorsaamheid tot sy eer op te tree, om sy gegewe opdragte uit te voer, moet ons eerste prioriteit wees!
En hoe wonderlik is dit nie, dat die Here van ons sondaar mense in sy diens gebruik maak. Hy het drie ampte in die kerk ingestel, naamlik leraar, ouderling en diaken, en Hy roep manne om in hierdie diens te kom staan. Maar daar is ook die amp van gelowige, waarin elkeen wat in Jesis Christus glo in staan. En aan elke amp, het die Here spesifieke opdragte gegee om uit te voer.
En nou kan ons vanoggend vir mekaar vra, geliefdes, voer ek as kind van God daardie opdragte uit? As ek na myself kyk, hoe lyk my lewe?
Is dit nie so nie, gemeente, dat daar talle van ons is wat vanoggend ons koppe in skaamte moet laat sak, want ons weet hier diep binne-in ons, dat ons nie altyd so getrou is om die opdragte van die Here uit te voer nie!
Ons gaan nie so gereeld kerk toe nie, ek lees maar min my Bybel, en baie keer vergeet ek om te bid! My kind is ook nie so gereeld in die Verbondsonderrig soos hy moet wees nie. Selfs my maandelikse bydrae aan die Here, laat ek soms na! En besef baie van ons dat ons regtig nie so aktief werksaam in die koninkryk van die Here is, as wat ons moet wees nie!
Geliefdes, dit beteken nie dat die mense wat hierdie dinge doen, noodwendig ongelowiges is nie, daar is van hulle glo, dit gebeur dikwels met ons, met u en met my, maar ons is ongehoorsaam aan die Here en sy Woord, as ons hierdie dinge doen! En die Here eis van sy kinders gehoorsaamheid en betrokkenheid. Dikwels gebeur dit dat ons so besig is met ons eie dinge, dat ons na die Here en sy Woord nie meer luister nie. Dat ons eie lewens en die wereldse belange vir ons eerste prioriteit geword het, in plaas dat die Here eerste in ons lewens moet staan!
Gemeente, kom ons gaan luister na die Woord van die Here om te sien en te hoor hoe ons behoort op te tree in gehoorsaamheid aan die Here, as ouderlinge, diakens en gelowiges in die Here se diens!

1.JESUS CHRISTUS ROEP TOT BEKERING
Die gebeure waarvan ons in hierdie hoofstuk lees, is ongetwyfeld van die belangrikste in die geskiedenis van die Christendom en die wereld, juis omdat dit so 'n treffende boodskap het. Saulus was 'n Jood en was streng opgevoed onder sy leermeester Gamaliel. Hy was 'n Fariseer en wat die wet betref onberispelik volgens Flp 3:5-6. Hy was baie hoog aangesien in die samelewing, en veral ook onder die Fariseers het hy almal oortref wat die wetsonderhouding en geleerdheid betref. Hy het die Christene gehaat. Vers 1 lees hy het "moord geblaas" teen die gelowiges. Sy haat het sulke afmetings aangeneem, dat hy feitlik soos 'n dier van woede geblaas het, soos die Grieks dit stel. Hy het die gelowiges van die Here vervolg, manne en vroue uit hulle huise laat sleep en in die gevangenis laat gooi. Ons lees ook in ons teksgedeelte dat hy briewe van die Hoe Priester gevra het om na Damaskus te gaan en die gelowiges te vang en geboeid na Jerusalem te neem.
En terwyl hy nog oppad is na Damaskus om sy vervolging daar voort te sit, het daar skielik 'n helder lig van die hemel hom omstraal, en hy het op die grond neergeval.
'n Stem uit die hemel het met hom gepraat: "Saul, Saul, waarom vervolg jy my?". Met hierdie woorde, broeder en suster, word die hele optrede van Saulus veroordeel. Hy het gedink dat hy met hierdie vervolging 'n diens aan die Here bewys het. Maar nou moet hy hoor dat hy eintlik besig is om teen die Here te werk! En Saulus antwoord: "Wie is U Here?" en die Here antwoord: "Ek is Jesus wat jy vervolg!". En terwyl Saulus daar op die grond is besig om te bewe en baie verbaas, vra hy: "Here, wat wil U he moet ek doen?"

En eers nou, liewe gemeente, nou is Saulus bereid om te luister na die Here en sy opdragte. Voor die tyd was hy blind, sy eerste prioriteit in sy lewe was om die gelowiges te vervolg om vir homself 'n goeie naam te maak, hy so besig met sy eie dinge, om die wet te onderhou; om 'n goeie Fariseer te wees; om 'n belangrike figuur in die samelewing te wees; om vervolging toe te pas, en daarmee het hy nie die openbaring van God in Jesus Christus raak gesien nie.
Geliefdes, en ook vandag is die kerk van die Here onder vervolging, goddelose mense in die samelewing en in die wereld wat die kerk vervolg! Dalk nie op so 'n drastiese wyse soos om gelowiges in die tronk te gooi of dood te maak nie, maar op 'n baie subtiele wyse. Vervolging se doel is tog om die gelowiges van die kerk af weg te probeer kry deur sekere metodes te gebruik soos gevangeneme en doodmaak.

Maar die goddelose mense in die moderne tyd, het 'n ander metode: om 'n gees van louheid en koudheid te bewerk deur gebruik te maak van moderne dinge soos die TV, videos, sosialisering, inkopies op Sondae, menseregte, ens.
En hierdie moderne metode van vervolging om die mense van die kerk af weg te kry, SLAAG, broeder en suster! Want die Here en sy kerk kom deesdae in talle mense se lewens tweede en derde, want hulle eerste prioriteit is hulle eie dinge! En daardeur is hulle ongehoorsaam aan die Here en sy opdragte, net soos Saulus was! Hulle het deel geword van die wereldse vervolging van die kerk, dis nou hulle wat hierdie metode van vervolging nl koudheid en louheid die kerk binne dra, en so word hulle deel van die vervolgers, soos wat Saulus was!
Die Here Jesus vra vanoggend vir elkeen wat ongehoorsaam is aan sy opdragte: Liewe broeder, liewe suster, waarom vervolg jy My? En dan kan u antwoord: Here, maar ek glo in U! En die Here antwoord: Maar Ek sien jou dan nie by die kerk tydens die erediens nie! Jou plek is leeg! Ek sien jou nooit Bybellees nie! Ek hoor jou nooit tot My bid nie! Ek sien nie dat jy jou bydrae vir My gee, om dankbaarheid aan My te bewys nie! Ek sien nie dat jy aktief aan die werksaamhede van die kerk deelneem nie! Net soos Saulus dink jy jy is besig om my opdragte uit te voer, maar dis al die tyd jou prioriteite, en nie Myne nie!

En dit is dan, gemeente, wat ons soos Saulus sal moet uitroep: "Here, wat wil U he moet ek doen?". WAT WIL U HE? Nie wat is my prioriteite en behoeftes nie, maar wat wil U he?
En die Here het reeds sy opdragte aan ons in sy Woord gegee! Die Here wil he ons moet kerk toe kom om Hom te ontmoet, want Hy het 'n afspraak hier met ons! Hy wil he dat ons aktiewe lidmate moet wees, warm in die geloof, gehoorsaam aan Sy Woord!

2.JESUS CHRISTUS ROEP ONS TOT SY DIENS!
Toe Saulus dit klaar vir die Here gevra het, het die Here vir hom 'n opdrag gegee om uit te voer. Hy moes gaan na die stad en daar sal vir hom vertel word wat hy moes doen. En toe Saulus van die grond af opstaan, was hy blind. En die manne wat by hom was moes hom by die hand neem en hom lei. As 'n hulpelose blinde kom hy die stad binne, oorwin deur dieselfde Jesus wie se volgelinge hy gevange wou neem. Vir drie dae lank kon hy niks sien nie, en het ook niks geeet of gedrink nie, en al vastende het hy volhard in die gebed, volgens vers 11.

Die Here het toe vir Ananias, een van die dissipels, na Paulus gestuur. Ananias was egter baie bevrees, en vir die Here vertel van hierdie man wat die Christene vervolg. Maar die Here antwoord: "Gaan, want hy is vir my 'n uitverkore werktuig om My Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel". Geliefdes, dan kom hierdie woorde van die Here: "Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly". Hy wat die gelowiges in Jerusalem deur sy vervolging laat ly het, sou baie moes ly in sy verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus.
Dadelik het Ananias gegaan om die opdrag van die Here uit te voer! Hy was gehoorsaam aan die stem van Jesus Christus, en het Saulus met liefde begroet! Hy het hom die hande opgele en gese: "Saul, broer, die Here het my gestuur, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word." En dadelik het daar iets soos skille van sy oe afgeval, sodat hy weer kon sien! Daarna is hy gedoop en hy het bely dat hy deur die Here oowin is en nou aan sy gemeente behoort.

Gemeente, die Here het Saulus as 'n uitverkore werktuig vir Hom gesien. Maar ook elke gelowige word geroep tot sy diens. Elke kind van die Here staan in die amp van gelowige en is 'n werktuig in die hand van die Here, en ons moet die Here se opdragte in gehoorsaamheid uitvoer. Die Here het ook in sy kerk die besondere ampte van leraar, ouderling en diaken ingestel, en gebruik ook gelowiges om daardie take tot sy eer te doen. Maar die feit bly staan, liewe gemeente, dat elkeen van ons in diens van die Here staan en opdragte van Hom ontvang. Ons moet dit gehoorsaam uitvoer!

3.WEES GEHOORSAAM AAN DIE HERE SE OPDRAGTE!
Nadat Saulus weer kon sien, en nadat hy geeet het en weer sy kragte herwin het, lees ons dat hy onmiddellik begin het om die Here se opdragte uit te voer! Vers 20 lees: "En hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig". Op hierdie stadium was hy nog 'n nuweling in die geloof, maar hy het onmiddellik begin getuig van sy geloof! En almal wat dit gehoor het was verbaas, omdat hulle geweet het hy die Christenvervolger was! Hy wat die vervolger van Christus was, het nou 'n navolger van Christus geword! En daardeur, geliefdes, het hy ook 'n vervolgde geword! Ons lees in vers 23 dat toe die Jode al hierdie dinge sien, het hulle "beraadslaag om hom om te bring". Hulle wou hom doodmaak! Hulle het die stad se poorte dag en nag bewaak sodat hy nie kon ontsnap nie! En toe het die dissipels hom met 'n mandjie die muur laat afsak, en het hy na Jerusalem gevlug. In Jerusalem het hy saam met die apostels vrymoediglik gespreek in die Naam van Jesus Christus.
Maar ook daar was hy net 15 dae volgens Gal 1:18-19. Daar het hy ook geredetwis met die Griekssprekende Jode, en toe wou ook hulle hom doodmaak. Van die gelowiges het hom toe help ontsnap, en hy het na Cesarea gegaan, en daarvandaan na Tarsis.
Gemeente, ten spyte van die vervolging, die aanslae en die beproewinge, het Saulus getrou gebly aan die opdragte van die Here in volle gehoorsaamheid! Hy het in teendeel meer kragtiger gepreek as ooit, deur die werking van die Heilge Gees, omdat hy nou bereid was om alles vir die Here te doen en te gee, en te luister as die Here praat!

SLOT

Liewe broeder, liewe suster, die Here praat vanoggend met ons! Hy gee vanoggend sy opdragte: Kom kerk toe want Ek het 'n afspraak met jou! Wees deel van die gemeente aksies, lees jou Bybel, Bid, gee jou bydrae gereeld, verkondig My evangelie en wees 'n getuie, soos wat My Woord van jou vra! Luister as die Here praat! Wees gehoorsaam aan Hom en doen wat Hy van jou vra! Hoekom? Want Hy was bereid om sy Seun vir jou op te offer aan die Kruis, sodat jy kan lewe! En daarom kan ons nie anders as om uit dankbaarheid vir ons verlossing, aan Hom gehoorsaam te wees nie!

Saulus wat Paulus geword het verklaar in een van sy briewe: Ek moet die evangelie verkondig, en wee my as ek dit nie doen nie! Ek moet gehoorsaam wees! En wee my as ek dit nie doen nie!
Geliefdes, moenie deel word van die wereld se vervolging van louheid en koudheid en slapheid nie! Moenie 'n vervolger wees nie, maar wees 'n navolger van Jesus Christus - gehoorsaam in sy diens as ouderling, diaken en gelowige, tot sy eer alleen!

AMEN


BRONNE:

Swartreeks Handelinge
Bybel in praktyk
Verklarende Bybel