Tuisblad

Preek - Mark 8

Preek - Matt 27

Preek - Rom 5

Preek - Joh 4

Preek - Hd 9

Kontakbesonderhede


Preek - Rom 5

Ds. Adriaan Swart
SKRIFLESING: ROM 5:1-11 LOFSANG: GES 336:1-2
NA WET: PS25:5
NA GEL:GES 1:4
BY DOOP:GES 320:1 EN 3
SLOTSANG: GES 302:1,3 EN 4

TEMA: DIE KRUISIGING EN OPSTANDING:'N BEWYS VAN GOD SE LIEFDE!

INLEIDING

Broeders en susters
Dit gebeur dikwels in sekere gelowiges se lewens, dat hulle begin twyfel aan God se liefde. Hulle wonder of hulle die saligheid het, hulle wonder selfs of hulle die ewige lewe en die hemel sal verkry.
Hierdie onsekerheid oor die saligheid pak ons dikwels beet in tye van nood en beproewing. So kan 'n gelowige wat op 'n siekbed is en moontlik kan sterf, begin om te twyfel aan sy saligheid. Of iemand wat deur rampspoed geteister word en byna alles verloor het, begin wonder of hy gered is. Iemand wat dalk groot finasiele probleme beleef, of huislike probleme ervaar, begin wonder oor sy geloof en twyfel oor sy saligheid. Sien die Here my ooit raak? Hoekom gebeur hierdie dinge met my-'n gelowige kind van die Here? Het God dan ooit vir my as sy kind lief?
Geliefdes, in Rom 5 gaan dit om die sekerheid van ons saligheid, ook wanneer ons as gelowiges swaar kry en begin twyfel aan ons verlossing.
Hierdie skrifgedeelte se een groot troosvolle boodskap is dit: MENSE WAT DEUR DIE GELOOF GEREGVERDIG IS, KAN SEKER WEES VAN GOD SE LIEFDE ONDER ALLE OMSTANDIGHEDE!


1. DIE WARE GELOWIGES KAN SEKER WEES!

Geliefdes, ons moet goed oplet dat daar 'n kwalifikasie verbonde is aan geloofsekerheid:Alleen die wat deur die geloof geregverdig is, kan seker wees van hul saligheid. Want in Rom 5:1 staan:"Omdat ons uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God"
Maar wat beteken dit om geregverdig te wees?
Dit beteken om vrygespreek te wees. As gevolg van die sondeval is die verhouding tussen God en mens erg versteur. Met die sondeval het daar 'n kloof tussen God en mens gekom. Die mens het verdorwe in sy verstand geword en wou niks met God te doen he nie. Rom 3:11-12 se:"daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie" Trouens, Rom 5:10 se vir ons dat daar van ons kant af 'n vyandskap teen God is. Adam het die ganse menslike geslag in sonde, ellende en verderf gestort. Die erfsonde is op ons en ons kinders.
Gemeente, en omdat God regverdig is moet Hy die sonde straf! Hy moes ons straf omdat ons gesondig het! Maar wat 'n groot genade dat sy Seun Jesus Christus aangebied het om in ons plek gestraf te word! Hy het uit liefde vir sy gelowiges ingewillig om as Middelaar tussen God en mens in te tree. Hy is gemartel, gespot, gesmaad en het veel lyding ter wille van ons verduur. Hy het selfs sy lewe vir ons aan die kruis op Golgota gegee. God het ons sondes gestraf in die dood van Jesus Christus.
Hy het al ons sonde op Hom geneem en daavoor betaal deur sy bloed wat vir ons gevloei het, en so vir ons redding bewerkstellig! Jesus het deur sy dood die toorn van God op die sonde weggeneem, en daarom word sy gelowiges nou regverdig verklaar en vrygespreek deur God. Rom 5:19 se dit vir ons mooi:"Want soos die ongehoorsaamheid van die een mens(Adam) baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Een(Jesus) baie tot regverdiges gestel word"

Maar die vraag ontstaan nou, geliefdes:Hoe kry 'n mens deel aan die vryspraak van God? Hoe kan jy seker wees dat die regverdigmaking wat Jesus vir jou betaal het, wel vir jou geld? Dit geskied deur die geloof. Die grond van die regverdigmaking is die dood van Jesus Christus. Die manier waarop die regverdiging in 'n individu se lewe effektief word, is deur die geloof. Geloof is volgens Rom 5:1 die middel, die instrument waardeur die mens die vryspraak van God deelagtig word. Wat presies is geloof? Geloof is niks anders as gehoorsaamheid aan die inhoud van die Evangelie nie. Dis om te glo in God en hoe Hy Hom in sy Woord openbaar. Geloof beteken om "ja" te se op die daad van regverdiging wat God in Christus Jesus gedoen het!
Want die Evangelie van Jesus Christus eis van die mens 'n beslissing, ja of nee, jy kan nie neutraal bly nie! Die mens wat op grond van sy geloof vrygespreek is, wat gehoorsaam was deur die werking van die Gess, wat "ja" geantwoord het op die regverdiging wat Jesus in sy plek behaal het, die mens, se Rom 5:1, het vrede by God. En vrede by God beteken dat die verhouding van vyand teen God nie meer bestaan nie. Jesus het die versteurde verhouding tussen God en mens herstel.
Wie dus sekeheid oor die saligheid wil verkry, of geloofsekerheid wil verkry, moet dit nie in homself gaan soek nie! Sekerheid van saligheid is buite ons in dit wat God in Jesus Christus vir ons gedoen het! Christus het sonder ons toedoen die vryspraak vir ons verkry.
Wie regverdig is uit die geloof , broeder en suster, het ook nou 'n totaal ander houding teenoor leiding en beproewinge. Want die gelowige sien verdrukkings, swaarkry en beproewinge as middele wat deur God gebruik word om geduld en volharding te bewerk. Paulus se in vers 3 en 4:"ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid bewerk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop"
Die hoop, gemeente, rig hom op die toekoms; op die beter tyd wat vir gelowiges wag by die wederkoms van die Here.
Wanneer ons dan begin twyfel oor ons saligheid as ons in beproewing is, dan is ons besig met presies die teenoorgestelde wat die Here met ons wil bereik. Beproewings moet juis dien om ons geloof nog sterker te maak! Die Here gebruik beproewings om ons nog nader aan Hom te bring en om ons nog vaster op Hom te laat vertrou!

2.GOD GEE BEWYSE VAN SY LIEFDE

Rom 5 se ook aan ons:God gee bewyse van sy liefde waarop ons in alle omstandighede kan reken.
Die eerste bewys van God se liefde, gemeente, is die dood van sy Seun. Rom 5:6 se want toe ons nog swak was het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. God het Jesus aan die dood oorgegee, sonder dat daar in ons, vir wie Hy dit gedoen het, enige meriete was! Ons was goddeloos, sondaars, opponente van God, Hy gee nog steeds sy Seun om ons te red! As di­t darem nie 'n bewys van God se liefde is nie! Hierin sien ons ook dat die liefde van God van 'n totaal ander kwaliteit is as die liefde van 'n mens. 'n Mens sal miskien nog bereid wees om te sterf vir 'n verdienstelike saak, maar dan moet hierdie saak werklik baie meriete besit! Die liefde van God is egter van so aard dat sy Seun Jesus Christus vir ons gesterf het toe ons nog sy vyande was! Dit is die eerste konkrete bewys wat Paulus gee vir God se liefde vir ons. God se liefde is spontaan.Dit word nie gemotiveer deur iets van ons kant nie. En omdat God se liefde van so aard is, kan die gelowige werklik seker wees van sy saligheid, dit word gewaarborg deur die liefde van God!
Die tweede bewys van God se liefde, geliefdes, berus op die opstanding van sy Seun. As die dood van Jesus Christus 'n bewys van God se liefde was, dan geld dit tog veel meer by sy opstanding! As die liefde van God by die dood van sy Seun getriomfeer het, dan is daar tog meer grond virsekerheid oor ons ewige lewe omdat Christus uit die dood opgestaan het!
Vir mense wat deur die geloof vryspraak van God ontvang het, beteken die feit dat Christus opgestaan het, dat hulle by die eindoordeel vrygespreek sal wees! Die kruisdood en opstanding van Jesus Christus, beteken dus nie net dat ons nou in hierdie lewe vrede by God kan smaak nie, maar dat dit ook so sal wees in die lewe na die dood. Daarom hoef 'n gelowige nie te twyfeldat hy verlos is nie, want Jesus Christus se opstanding uit die dood waarborg dit! Wat 'n heerlike voorreg dat ons en ons kinders by sy genadeverbond ingesluit is, en dat Hy ook by die doop hierdie mooi belofte aan die dopeling maak!

SLOT
Broeder en susters
Elke gelowige beleef een of ander tyd in sy lewe lyding, beproewinge en nood. Moenie moedeloos word daaroor nie! Jakobus se in Jak 1:2: Ag dit louter vreugde wanneer julle in beproewinge val, want die Here toets julle geloof. Moenie twyfel in u saligheid nie, want die Here kom sy beloftes wat Hy aan ons gemaak het na! En as u wel deur twyfel oorval word, moenie sekerheid gaan soek in uself nie! Sekerheid van saligheid, is in God se liefde en wat Hy gedoen het in Jesus Christus.
En as u na bewyse soek? Jesus se kruis en opstanding is die bewyse.

Mag die Here vir ons die geloofsekerheid gee om nooit te twyfel aan ons saligheid nie, en altyd standvastig in die geloof te bly in alle omstandighede.

AMEN






Laat U koninkryk kom...!