Tuisblad

Preek - Mark 8

Preek - Matt 27

Preek - Rom 5

Preek - Joh 4

Preek - Hd 9

Kontakbesonderhede


Preek - Markus 8

Bely en volg Jesus Christus!
Skriflesing: Markus 8:27-38
Lofsang: Ges 63: 1 en 4
Na wet: Ps 25:5
Na gel: Ges 245:11
Slotsang: Ges 275:1 en 5

Tema: Bely en volg Jesus Christus wat gely, gesterf en opgestaan het.

Inleiding

Broeders en susters
Baie van ons was al in 'n situasie waar ons Christelikheid en ons Christelike godsdiens aangetas en afgebreek word! Jesus Christus se Naam word misbruik , Christelike norme en waardes word bespot en afgelag, en die kinders van God word beswadder en beskinder terwyl die kerk van geen waarde is vir die ongelowiges nie!
En hier staan ons in die situasie terwyl ons al die vreeslike dinge van ons God en ons Verlosser moet aanhoor!
Wat doen u as Christen in die situasie?
Wat doen u as gelowige kind van God as die gebeure 'n werklikheid is in u alledaagse lewe?
Weet u wat doen baie mense wat hulleself Christene noem? HULLE BLY STIL!!!
Hulle is nie bereid om op te staan ter wille van hulle geloof en hulle Verlosser nie! Hierdie mense sit dikwels elke Sondag in die kerk om na die Here te luister wat deur sy Woord met ons praat, maar die oomblik wanneer hulle teruggaan in die wereld in, skaam hulle hul vir die Evangelie, skaam hulle hul dood vir die Seun van God!
Broeders en susters, is ons nie dalk deel van die mense wat so optree nie? Ons gebruik Jesus Christus net in nood- en krisissituasies, in swaarkry, pyn en lyding, dan weet ons Hy kan help! Maar is ons bereid om vir Hom te getuig? Is ons bereid om sy Naam voor die mense te bely? Of ontken ons Hom net soos die wereld? Hoe kom ons uit die bose kringloop? Laat ons luister na die Woord van God wat ons gelees het.

1. Bely dat Jesus die Christus is!

Weet u, broeders en susters, dat dit nie 'n moderne verskynsel is dat duisende mense Jesus Christus nie as Messias bely nie, self in die antieke tyd het dit gebeur! Ons kan dit aflei uit ons gelese gedeelte by die vraag en antwoord van vers 27 en 28. Jesus vra in vers 27: "Wie se die mense is Ek?". En die antwoord van die dissipels:"Johannes die Doper en ander: Elia, en ander: Een van die profete".
Die mense in Jesus se tyd het 'n Messias verwag wat vir hulle 'n politieke bevryder sou wees wat hulle sou bevry van die Romeinse oorheersing. En vir Jesus het hulle nie as die ware Messias beskou nie, maar wel as die Wegbereider wat die aanstaande Godsheerskappy sou aankondig. Die mense het die figuur Elia of ander profete of Johannes die Doper as voorlopers van die Messias beskou. En hulle het Jesus as deel van hierdie voorlopers gesien!
Maar dit is genoeg om net te weet wat ander mense van Jesus bely nie! Daarom rig Jesus hierdie vraag ook tot sy dissipels: "Maar julle, wie se julle is Ek?" volgens vers 29. Die vraag word direk en persoonlik gerig aan die dissipels en in teenwoordigheid van Jesus self moet hulle daarop antwoord. En dan volg Petrus se opregte antwoord en belydenis: "U is die Christus".
En daarmee verklaar hy dat Jesus die belangrikste figuur in die geskiedenis van die ganse mensheid is! Hy is die Bemiddelaar van die lankverwagte Messiasryk!
God het juis die dissipels deur hierdie belydenis in staat gestel om hulle lewe te wy aan die diens van Christus en om Hom te volg tot aan die kruis! Hierdie belydenis is die erkenning van sy magtige wese en werklikheid. En hierdie belydenis help my as kind van God, om nie te lewe asof Hy nie bestaan nie en daarom misbruik ek nie sy Naam of laat toe dat ander dit doen nie!
Volgens vers 30 het Jesus sy dissipels streng beveel om nie bekend te maak dat Hy die Messias is nie. Waarom het Hy dit gedoen, broeders en susters? Omdat die Joodse verwagting van 'n Messias wat in heerlikheid sou kom om die heerskappy op aarde oor te neem, eers vervang moes word met die Christelike Messiasverwagting, van Een wat sou kom in nederigheid, en wie se Koninkryk in die hemele is! Die tyd vir die aankondiging dat Hy die ware Verlosser en Saligmaker is, was nog nie gereed nie en Jesus wou sy verdere werk nie belemmer nie!
Weet u, dat daar vandag ook nog baie mense is wat met hule uitsprake die Messiasskap van Jesus Christus aantas, en daarom moet elkeen van ons ook die vraag wat Jesus aan sy dissipels gevra het, persoonlik beantwoord: "Maar julle, wie sê julle is Ek?"
Dit maak nie saak wat ander mense van Jesus bely nie, maar wat bely ons? Wat bely ons elkeen persoonlik? Ons moet self weet, verstaan en aanvaar dat Jesus die Messias is! Ons moenie slegs nuuskierig wees, Hom bewonder of net in noodsituasies Hom gebruik nie! Nee, ons moet telkens kom tot die belydenis: U is die Christus! Bely Hom as die enigste ware Messias, die Christus wat lewe bring, Hy wat die Seun van God is, en hierdie belydenis lei tot aanbidding en toeweiding!

2. Jesus kondig sy lyding, sterwe en opstanding aan

Nadat Petrus Hom bely het as die Christus en al die ander dissipels saam met hom, begin Jesus om hulle voor te berei op al die dinge wat met Hom moes gebeur om waarlik te blyk dat Hy die Messias is. Hy moes teen hulle eie verwagting in 'n lydensweg volg.
Vers 31 is die eerste aankondiging van die lyding van die Here in die boek Markus. Volgens Petrus se optrede mag dit, kon dit nie so wees nie! Daarom was dit noodsaaklik dat die dissipels ingelig moes word dat die regering van Christus in aanvang gaan neem, nie met 'n spoggerige ten toonstelling nie, nie met asemrowende rykdom nie, nie met 'n oorverdowende applous van die wereld nie, maar met 'n smadelike lydingsweg wat sal eindig in sy dood!
Vers 31 se dat Hy baie sal moet ly en dat Hy verwerp sal word deur die ouderlinge, owerpriesters en Skrifgeleerdes en uiteindelik gedood sal word, maar na drie dae weer sal opstaan. Hierdie mededeling aan die dissipels was ontnugterend en verpletterend! Kan dit waar wees? Die Messias wat vir soveel eeue lank verwag is en uiteindelik nou hier by ons is, moet ly en sterf om sy koninkryk te vestig? Hoe weinig die dissipels die betekenis daarvan begryp het, blyk uit die optrede van Petrus. Hy voel hom genoodsaak om vir Jesus daarop te wys dat die gedagtes van lyding en dood nie by die Joodse opvatting van die Messias pas nie. Hulle het nog steeds nie werklik verstaan waaroor dit gaan nie! In vers 32 staan: "En Petrus het Hom opsy geneem en Hom begin bestraf". Hy wat so-ewe die Christus-belyer was, is nou die Christus-teenstander. Die leerling wil nou optree as leermeester en stel hom daardeur in diens van Satan!
Jesus draai die rug op Petrus volgens vers 33 en kyk sy dissipels bestraffend aan. Elkeen wat Hom van die lydensweg wil probeer weerhou, doen die werk van Satan! Petrus het 'n middel in die hand van Satan geword, omdat hy die bedenkinge van die mens bo die openbaring van God gestel het. Daarom se Jesus in vers 33 vir Petrus: "Gaan weg agter my, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die van die mense!".
Die dissipels kon net nie aanvaar dat Jesus as Messias moes ly en sterf nie. Hulle sou eers na Jesus se dood en opstanding begryp hoekom dit vir Hom nodig was om te sterf. God het sy Seun gestuur om deur lyding, dood en opstanding, verlossing vir die mense wat in Hom glo te bring!

3. Verloon jouself, neem die kruis op en volg Hom!

Jesus het in vers 31 aangekondig dat Hy die lydensweg moes bewandel. Maar nou volg die aankondiging dat elkeen wat Hom bely en navolg, daardie selfde weg van lyding en verloening sal moet bewandel! En hierdie aankondiging het nie net betrekking op die dissipels nie, maar op alle mense wat Jesus bely!
In vers 34 se Jesus: "Wie agter My aan wil kom, moet homself verloen en sy kruis opneem en My volg".
Wat beteken hierdie vers?
Om agter Jesus aan te kom, beteken om by Hom aan te sluit deur die werking van die Heilige Gees, om voortaan "van Christus" te wees!
Wat beteken verloening?
Dit beteken dat iemand wat jy wel ken, jy nou ontken! Selfverloening beteken om die eie-ek uit my lewe te verwyder, om eie begeerte en behoeftes wat eie-ek gesentreer is te misken, om my self te ontken, en om alleen die wil van God te erken! My eie-ek is niks, en God Drie-enig is alles in my lewe! Ons moet saam met Paulus kan bely: "Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my" volgens Gal 2:20. Eers as die eie-ek uit my lewe verwyder is, maak dit die opneem van die kruis moontlik!
Maar wat beteken dit om jou kruis op te neem?
Dit beteken om in alle omstandighede, in pyn, lyding, smarte en beproewinge te volhard, en altyd aan Jesus Christus vas te hou, selfs al sterf jy in jou lyding! Jy moet bereid wees om in volle vertroue Jesus te volg, selfs al beteken dit jou dood! En om hom te volg is om sy Naam te bely! Om Hom te volg is om op te tree as sy Naam en Evangelie beswadder en bespot word!
Calvyn het geskryf dat as 'n gelowige nie voortdurend sy kruis dra nie, met ander woorde gedurig lyding beleef ter wille van sy geloof en sy God nie, hy soos 'n steeks perd is wat lank op stal gestaan het en dik gevoer is! So perd kan nie in toom gehou word nie, hy erken nie sy ruiter nie en gehoorsaam geen bevel nie! En daarom moet ons deur een of ander vorm van lyding of tug inbedwang gehou word om te verhoed dat ons in so moedswilligheid buite ons perke gaan en verwaand begin raak!
Ons moet selfs bereid wees om ons lewe te verloor ter wille van Jesus Christus en sy Evangelie volgens vers 35! Daar staan: "elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red".
Slegs diegene wat bereid is om hulle lewe te verloor ter wille van Jesus Christus en sy Evangelie, is geskik om Hom te volg, omdat hulle verstaan wat selfprysgawe werklik beteken. En om Jesus te volg is om sy voetstappe te ken, en om hom daarin te volg deur woord en daad!
Maar vers 38 verklaar: "elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in heerlikheid". Almal wat in hierdie lewe te skaam is om Hom te volg, sal Hom op die oordeelsdag weer sien, maar dan sal dit te laat wees! Maar diegene wat Hom nou reeds duidelik sien en aanvaar, sal nie met die oordeel deur Hom verwerp word nie, omdat hulle reeds geoordeel is (Rom 8:1 en 1 Joh 5:12).

Slot

Broeders en susters, as ons as gelowiges, wat Jesus Christus bely, in 'n situasie kom waar Jesus en sy Evangelie bespot, afgebreek of beswadder word, mag ons nie stil bly nie!!!
Staan op vir die Evangelie!
Staan op vir Jesus Christus u Verlosser en Saligmaker! Getuig van Hom! Volg Hom na! Bely Hom voor die ganse wereld!
Ons moet saam met Paulus kan getuig in Rom 1:16: "ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo".
Ons mag Jesus Christus nie net in noodsituasies gebruik en as gevaar dreig nie, maar Hy moet my as belydende gelowige se hele lewe beheers! Ons mag ons NOOIT skaam vir Hom nie, juis omdat Hy sy lewe vir ons aan die kruis op Golgota gegee het! Alleen die belydende gelowige verstaan, aan die hand van God se Woord, Jesus Christus se lyding en die doel daarmee! Dit gaan om die ewige heil van mense! Daartoe is ons as belydendes geroepe om Jesus Christus en sy Evangelie te verkondig! Dit is my roeping, al moet ek daarvoor ly en sterf!
Is u een van die mense wat maar stilbly as Jesus se Naam misbruik en beswadder word? Of is u een van die gelowiges wat vir die Here in die grootste opregtheid bely: Here, ek wil vir U lewe! Ek wil vir U met volle oorgawe getuig! Ek sal enige iets vir U doen! Ek is selfs bereid om lyding, pyn, smarte vir U te verduur selfs al beteken dit my dood! Want ek bely U as die Christus!
Broeder en suster, kan dieselfde van U gese word?
AMEN